Nuutste Nuus

Die Tokkie – Die promosie-video van die okkasie begin: “Twee reuse trek saam....”. En waarlik dit was so! ‘n Reuse lekker dag van saamkuier op ons geliefde tokkie Saterdag die 22ste September.

Die manne van Helshoogte het dit sommer gou herdoop na ‘n kort en kragtige Le Coq. (Ons is egter nie seker wat die ouens van Helderberg dit noem nie!?) Die idee van Le Coq is baie eenvoudig: om bande op kampus te bou met ‘n ander manskoshuis. Nodeloos om te sê sal Eendrag nie daarvoor genader word nie en ook nie die jammer ouens van Dagbreek nie! So het die idee hierdie jaar vir die eerste maal realiseer soos die stigters dit wou hê – op Helshoogte se tokkie, met tafels en stoele, sambrele, so een ou swembadjie, bietjie musiek en ‘n lekker lang kroeg om al die kele nat te hou.

Die weer wou eers nie saamspeel nie. ‘n Paar bekommerde HK-lede het omtrent elke uur van Donderdag af gekyk of AccuWeather en WeatherSA nie dalk erander nie! Gelukkig het die hoenders in nommers opgedaag en ook die manne van Helderberg was nie bang vir bietjie reën en koue nie. Daar was selfs ‘n klomp oulike dames wat net wou kom kyk hoe ons dit doen en het net so lekker saamgekuier!

Die nuwe HK van Helderberg en Helshoogte het ‘n span gemaak om die Oumanne aan te vat in so paar kompterende kuier-sporte. Eerste aan die beurt was vinnig rook, wat die HK’s amper gewen het, maar gelukkig het die Oumanne se ondervinding die deurslag gelewer! Daarna was “down-downs” waar die HK’s verneder is deur die Oumanne se span. Laaste sou armdruk gewees,maar ongelukkig was die HK nie nog lus vir verloor nie, so het onttrek.... Soos Prof. Tokkie opgemerk het in Huisvergadering verlede semester: “Niks so anders soos ‘n nuwe HK-lid nie!”

Alle krediet aan Willem Pieters wat, amper eiehandig, die hele dag van ons kant af gereel het. Willem het verskriklik baie moeite gedoen om die dranklisensie deurgedruk te kry en seker te maak ons het almal ietsie kouds en ‘n stoel of tafel om op te sit. Verder ook dankie aan die Tweedejaarskomitee wat die kroeg beman en die braaiwerk gedoen het vir die boereworsrolle. Laaste dankie aan Greg van Tollies wat ons uitgehelp met twee uitsmyters en om drank teen die billikste pryse te bekom.

Volgende jaar is dit Helderberg se beurt om ons te ontvang daar by hulle gronde. Ons sien weereens uit na lekker dag van reuse wat saamtrek en bande wat gesmee word.

Add comment

Comments

  • No comments found